District 9 Resensie

Dit is duidelik dat die Suid-Afrikaanse filmbedryf se sukses nie stop by name soos Gavin Hood nie. Neill Blomkamp (29), gebore Suid Afrikaner, het pas ongekende sukses bereik as regisseur en mede-skrywer van District 9 – ‘n film oor vreemde wesens van ‘n onbekende wêreld wat bo-oor Johannesburg tot stilstand kom in ‘n ruimteskip. Anders as in meeste ander films met dié tema, is hierdie wesens nie ‘n onmiddelike bedreiging vir die mensdom nie, maar word gered en verplaas na ‘n plakkerskamp naby Johannesburg bekend as District 9.

Twintig jaar later is die plaaslike Suid-Afrikaners nie meer so vriendelik teenoor die “prawns” wat die stad dompel in misdaad en ander probleme nie. Die hulp van ‘n privaat multi-nasionale maatskappy word verkry om hulle te verskuif na ‘n nuwe kamp 200km buite Johannesburg. Wikus van der Merwe (Sharlto Copley) word besmet met ‘n vloeistof wat hom stadig maar seker transformeer in ‘n “prawn”. In ‘n poging om homself te red steek hy grense oor en die verhaal neem interessante draaie tot by ‘n oop einde. Van der Merwe is ‘n onverwagse held wat nie pas in die konvensionele prentjies van ‘n tipiese hoofkarakter nie.

Die film is geskiet in ‘n amper dokumentêre styl, waarin die kyker deur die oë van selfs sekuriteitskameras dele van die verhaal volg. Deurlopende kommentaar en naby-skote dra by tot ‘n naby ervaring wat die film eg en realisties laat voel. Blomkamp se jarelange studies in animasie en spesiale effekte is duidelik te bespeur in die briljante uitbeelding van die surrealistiese wesens en ander film effekte.

District 9 sinspeel op die bekende Distrik 6 uit die apartheid era. Beelde van militêre voertuie, traangas en lyne soos “One bullet, one prawn” herroep die herrinneringe van die Suid Afrikaanse verlede. Die waarskynlike ooreenkomste met die onlangse Xenofobia geweld is ook duidelik alhoewel die film reeds in verfilming was. Nogtans is die verhaal van vreemdelinge wat verstoot, vermoor, ontleed en verwerp word universeel en kon elders op die planeet ook afgespeel het.

Die uitbeelding van die huidige Suid-Afrikaanse landskap is realisties en gee die kyker insig in die lewe van inwoners in informele huisvestings.

Die film is nie vriendelike gesinsvermaak nie. Die konstante geweld en tonele van sigbare ligaamlike vervorming herrinner aan tonele uit Starship Troopers en The Fly.

District 9 is vir sy genre ‘n Suid-Afrikaanse meesterstuk wat jy kan gaan geniet as jy belangstel aan iets wat jou dalk die nag sal laat wakker lê!

Ons gee dit vier uit vyf sterre!

~ deur liminaal op Augustus 29, 2009.

2 Responses to “District 9 Resensie”

  1. Hierdie fliek was anders as enigiets van hierdie genre wat ek nog ooit gesien het. Die analogie met dit wat gebeur het tydens apartheid kom baie sterk deur. Sodanig so dat dit eintlik ontstellend is.

  2. Juis. Want dit was onstellend – en toe het niemand dit kwansuis gesien nie, nes Wicus “nie geweet het” van die genetiese eksperimente op Prawns nie.

Leave a Reply